Jump to content

Trekkerswee/Silwer Strale

From Wikisource
Revision as of 19:59, 25 February 2009 by Anrie (talk | contribs) (+ content, formatting to follow)
(diff) ← Older revision | Latest revision (diff) | Newer revision → (diff)
'n Woord van Inleiding Trekkerswee
'n Woord van Inleiding
deur Totius
Goue Gode



Silwer Strale

I
Dis heuwels, heuwels, heuwels net
 sover 'n mens se oog kan speur;
 grasheuwels waar ook riwwe gaan,
 met enkele stroompies tussendeur.
Daar is geen hoë berge nie,
 want hoog is daar die wêreld self;
 en luggies waai daar dun en fris,
 of dit stroom uit die blou gewelf.
Die baie dale en klowe wat
 die hoogland kruis en dwars deursny,
 bied winterskuiling vir die vee
 wat anders al te koud sal kry.
En as die eerste rypies val
 trek bosveld toe wat kan,
 om daar in lekker warrem son
 hul winterlaers uit te span.
Maar somers is dit heerlik op
 die Rand; dan lê in sonnegewaad
 die heuwels soos ramme te sluimer-slaap
 langs strome wat lag en praat.
Dan reën die wolke somaar as
 hul swaar skuif oor die hoë land,
 en die dak van Transvaal se geute spuit
 die water weg na alle kant.—
Dáár in die hoë wildheid met
 sy huppelende heuwelskoon
 het jarelank 'n trekker met
 sy vrou en kind alleen gewoon.
II
Verlore-klein lê op die Rand
 hul huisie in die trekkersland;
 dit is 'n stip net in die wei—
 die rietedak en muurtjies van klei.
Daarlanges lê die beestekraal,
 waar smiddags doodse stilte daal
 as kalfies, in die son gebraai,
 die vlieë van hul kop lê waai,
so dom-gerus; en bly-ontsteld
 eers opspring as uit ruie veld
 die koeie aandraf wat met hul
 geloei die awendstond vervul.
'n Bietjie verder van die huis,
 waar mielieblare helder ruis
 as windgeroer hul sanggeluid
 hef bo die dowwe velddreun uit,
lê laer af, 'n klein vierkant,
 die rooi geploegde akkerland
 waaruit die boer by goeie jaar
 sy mielies, ál sy graan vergaar.
'n Enkele perske, aan die lug
 gewénd, dra daar sy goudgeel vrug,
 en bied, gedroog, in wintertyd,
 'n skaars-verkrygbre soetigheid.
Dit is die plasie wat daar leg,
 só rustig in die wydte weg—
 'n koninkrykie op homself
 waaroor 'n helder hemel welf.
III
Nou ry 'n ruiter oor die rant.
 Die bodeur 's oop al as hy kom;
 net die onderdeur se werwel draai
 'n vrouehand by die aanklop om.
Sy groet as sy hom binnelaat,
 en vra hom wat sy wense is:
 hy moes maar bietjie sit as sy gaan
 om pa te sê dat daar mense is.
Sy skuif verby met mooie buig
 en stap met ligte voetstap weg.
 Die vreemdeling sien skrams nog net
 haar volle wese en hare-vleg.
'n Glimp, 'n glans, 'n gouigheid,
 nes of 'n gees verskyn.
 Maar nooit sal in sy lewenstyd
 dié ligbeeld uit sy siel verdwyn.
So half-verleë, asof bespied,
 laat sy haar hande strelend gly
 oor halme wat in volle saad
 hul hooghef aan haar wedersy,
en saai 'n handvol grassaad heen,
 denkend so in verbygaan dat
 by seëning van wind en reën,
 'n enkele wel sal wortel vat.
Intussen kom haar moeder met
 'n lekker koppie koffie aan;
 sy sit gesels en sien haar kind
 al verder na haar man toe gaan.
IV
Hoe lyk dit of die plasie so
 allénig in die wêreld leg?
 Is daar geen ander plase omheen—
 naby en verderweg?
Ek sien daar nog geen telegraaf
 of kronkelende spoorwegbaan;
 geen stofferige heuwelpad
 wat na die trekkerswoning gaan.
Net oor die werf, met kweek deurwas,
 lê duidelik in kronkelspoor—
 so loop die mens se voet altyd—
 die voetpad na die watervoor.
En verder, aan die werf se kant,
 juis waar die hoë halme waai,
 sien ek 'n tweelingstrepie wat
 bevallig deur die velde swaai.
Die tweeling-spoortjies, so gering,
 met die maanhaar tussenbei,
 is die kompas wat trekkersboer
 deur skraal bewoonde streke lei.
Dit is sy seker spoorwegbaan,
 meteens sy wisse tel'graaflyn,
 waarlanges gaan sy tripp'laar en
 sy stadige ossewa-trein.
Wanneer die land kom in gevaar,
 dan sien jy langs die lyntjies gly
 'n wakker stoet van burgers wat
 op wakker perdjies ry.
V
Die moeder kyk maar al weer uit,
 die tyd begin nou lank te val;—
 daar is haar dogter by haar man,
 en ja, daar kom hul al!...
"Dag neef! Is dit die oudste seun
 van buurman Koos miskien?
 Ek het hom so 'n dag of wat
 vir die eerste keer gesien."
"Oom ja, en pa laat vra om saam
 in een geselskap op te trek:
 alléén sal ons te vreemd ons voel
 op Perdekraal se saamkomplek."
"Sê vir jou pa dis goed, my neef.
 Kom maar die middag bietjie vroeg,
 dan ry ons nog 'n aandskof en
 is daar die môre vroeg genoeg.
"Kyk, daar is Perdekraal,
 daar waar die laaste heuwels rys."
 Oom buig hom oor die onderdeur
 terwyl sy vingers wys.
"Wel, oom, dis goed, ons sal so maak."
 Dan sal hy ook maar weer vertrek.
 Hy gooi die teuels oor sy perd
 en ry weer oor dieselfde nek.
Bo-op die nek loer hy verlaas
 versigtig nog na agter om,
 of hy nog iets kan sien, maar nee,
 die nôi het nie weer uitgekom!
VI
o, Die eensaam-huiswaartse rit,
 en die eerste gedagtes aan haar!
 Dit is die eerste keer dat hy
 die uitdraai-paadjie nie gewaar...
Hy is verdwaald, en dis al aand...
 Sy droomgedagte is skielik weg,
 maar nou sit hy 'n plan te maak—
 wat, tuisgekom, te seg.
Sy mense sit aan tafel as
 hy inkom met 'n stram gesig
 en kort en goed sy boodskap doen
 met oë op sy bord gerig.
"Maar, Willem," vra sy suster hom,
 "wat kom jy dan vanaand so laat?
 Het jy heel-middag daar gesels
 en so jou tyd verpraat?
"Ma, hoe lyk Willem vir my so snaaks?
 Hy is tog dalk nie doodgegôi
 geraak nie in die stilligheid
 op die Transvaalse takhaarnôi?"
"Bly stil!" so sê hy nukk'rig-kort,
 "Die oom daar was eers vér opsy,
 en by die huistoe-kom het ek
 verkeerde pad gery."...
Nou word dit langsaam stil aan tafel,
 stil word die borde- en messeklank.
 Die vader lees 'n stukkie nog,
 en sluit met lof en dank.
VII
Die donserige maanlig-nag
 die daal so sag, so sag
 al op die huis en werf en plaas
 waar net maar één hou wag.
Oom Koos se huisgesin het weer
 van werf en werk teruggekeer;
 en maanlig-nag lê van sy pluim
 op elke oog 'n donse-veer.
Die mense-gees, vry in sy lug
 van onbegrensde wêreldvlug,
 keer in die donker liggaamshuis
 ook weer terug.
Dan gaan die deurtjies almal dig;
 dan worstel daar by halwe lig
 die hart wat waak
 en wat die droomwerk moet verrig.
Net Willem slaap vannag nie gou.
 Hy loer hoe deur sy raampie nou
 die maan 'n sagte lig laat val
 of buite lag oor trane-dou.
So voel hy hom: weemoedig-bly.
 En ook so rein, so rein daarby,
 soos maanlig wat met blanke voet
 oor pêrels van die dounag gly.
In slaap sink hy dan eind'lik weg;
 hy hoor die woord weer wat sy seg;
 hy sien haar gaan weer oor die veld;
 hy sien ook weer haar harevleg.
Sy slaap duur tot die son hoog skyn,
 die maan laag aan die lug verkwyn,
 beeld van sy droombeeld wat
 nou bleekrig weer verdwyn.
VIII
o, Die oggendstond op 'n boereplaas!
 Daar trek al op die eerste rook.
 Hul het gistraand die vraag beslis
 wie se beurt of dit môre is
 om ketel te kook.
Die môrester het opgegaan;
 daarbinne roer al een;
 daarbuite bly die rokie draai,
 omdat daar nou geen windjie waai
 deur vroeë môrewêreld heen.
Die haan het op sy beuel geblaas;
 hy spring al van sy tak;
 'n mens sal sê dat hy die baas
 (so stap hy) is van werf en plaas,
 en die transport dra in sy sak.
Hom volg sy vriend, die kallekoen,
 'n oue towenaar:
 hy worstel met sy slange wat
 hy nukk'rig teken in die pad
 se stof, met duister vlerkgebaar.
Die kraalvee is al moeg gelê;
 hul rek die groot, stram lywe uit.
 Daar kom die Kaffer ook al aan
 wat koulik oor die douveld gaan
 en eers die kalwerhok ontsluit.
Sy emmer ruis van pure musiek,
 so vloei dit nou uit volle speen;
 musiek ook vir die kalfie als
 hy kort-kort om sy moeder wals
 op nog onvaste horrelbeen.
Maar kyk hoe staan die osse met
 groot oë na die hek te tuur,
 totdat die laaste hinderpaal
 word uit die mikstok uitgehaal
 waaraan hul saans hul lywe skuur.
Die son gaan op, die vee verdwyn.
 Net in die onverstoorbre vert'
 'n ossespan stap voor die ploeg,
 en agteraan die man wat swoeg
 by 'n rukkerige stert.
Die môre smelt weer met die dou,
 die vrede alleen bly soos dit was.
 Net 'n hen spring van haar eiers af
 met groot geraas, en die brakhond blaf
 vir die enkele kuiergas.
IX
Binne die huis is dit vandag
 nie al te rustig, want
 moeder en dogters moet bak en slag
 vir die groot fees van die land.
En dan—die Kaffers is so baar!
 "Daar staan die brood al uitgerys
 en die oond is koud! Dis werklik waar,
 'n mens moet hul ook alles wys."
"In die ou Kolonie had jy nog
 oorlamse skepsels wat gou-gou leer.
 Wat het my man met die lang tog
 in vredesnaam makeer?"
Maar die dogters staan hul moeder by
 met opgestrookte arm:
 dit knee die deeg en maak pastei;
 en die oond is ook al warm.
Die jong goed kan nie so ernstig wees
 of 'n grap word tussendeur gegôi.
 "Hierdie tert is nie vir die fees,
 maar vir Willem se takhaarnôi."
Net sluip weer Willem deur die kombuis
 langs 'n skemerdonker hoek.
 "Willem, wat loop jy so deur die huis
 nes 'n hoenderhen wat lêplek soek?"
Hy swyg; verdwyn weer ongemerk;
 hy's met die saak verleë:
 die vrouens wat die wee bewerk
 (so dink hy) spot daarmee.
X
Die tyd van trek die kom weldra.
 Daar gaan oom Koos se ossewa,
 blou-bont geskilder; hoor hoe raas
 die wiele op pad na oom Gert se plaas.
Al dadelik van die staanplek af
 dril die osse-lywe soos hul draf.
 Die vrouens roep: hul skud uit lid,
 só ruk en rammel dit.
"Hôi, Willem, hou nou op met klap!
 Wat wil jy?... Laat die osse stap."
 So roep oom. "Watter haas is daar?
 Die middagson sit nog wie weet waar."
Dit help so effentjies, maar dan
 praat Willem weer bo die rooibont span,
 en die ossedier, so stroef en stil,
 voel gou-gou wat sy drywer wil.
So kort-kort teen 'n opdraand blyf
 die kettingtou nog taamlik styf,
 maar anderkant-af swaai dit somaar slap
 as die osse weer raak uit maat en stap.
Hul is te veel, maar oom wil tog
 ook bietjie met sy beeste spog.
 En dan, dis so armoedig om
 met so 'n paartjies daar te kom;
dáár by die plaas, daar by die fees
 waar soveel mense saam sal wees.—
 Oom Gert se plasie haal
 hul as die son nog wakker straal.
XI
Ek hoor van vreemde lente melde
 as sangtyd wat genaak,
 wanneer die voëls in bome-velde
 singend hul nessies maak.
Maar hier's geen sang in hoë twyge
 as skat van lentetyd,
 maar oral diep en ernstig swyge
 van velde kaal en wyd.
Ek hoor van vreemde lente melde
 as tyd van blommegeur,
 wanneer veldblommetjies die velde
 versier met tint en kleur.
Maar hier bloei hul in klein alleenheid,
 in aarde dor en vas;
 by ons is dit àl golwende eenheid
 van velde enkel gras.
Só stil eenvoudig in sy worde,
 so sonder klank of praal,
 kom hier die lente in ryp-verdorde
 geweste neergedaal.
Tog is ons lief sy eerste sprietjies,
 die grassies aan ons voet;
 tog leer dit ons weer nuwe liedjies
 van taaiheid en van moed.
XII
So het eenselfde lentelewe,
 eenvoudig, diep en waar,
 twee stille wesens sag omswewe—
 vir Willem en vir haar.
Daar was geen danse of sangerskore,
 geen klank of kleure-gloed;
 net liefde stil dié dag gebore
 by simple boere-groet—
Nog gaan in droomnag stil sy skrede
 na simple boerehuis;
 oom Gert se plasie is sy Eden—
 sover haar voete ruis.
Die kalwerhok is dan die plekkie
 waar hy so graag sou staan
 om, loerend deur die klipkraal-hekkie,
 haar heeldag ga te slaan.
En nou ... hy kan dit skaars gelowe,
 sien hy haar wese weer,
 net soos 'n lenteson daarbowe
 skaamrooierig en teer.
En nou ... sy gaan met hulle same,
 sit op die voorste wa,
 terwyl hy roep die osse-name
 met sweepslag agterna.
En nou ... hy sien haar liewe kappie,
 gestik van enkel sis.
 En straks ... doen hy 'n klein vriendskappie
 as hul gelaer is.
XIII
Die vuurtjie brand
 hoog langs die heuwelrif.
 Die duisternis bedek die land,
 maar dis 'n duisternis waardeur
 die maan se melkies sif.
Die vlamme dans
 vrolik in vuurge kring.
 Die mense sit 'n krans
 en luister swygend na
 die keteltjie wat sing.
Dit is die trekkersboer
 se late lied wat wek
 sy hart en diep hom roer.
 Dit is sy vroeë môresang
 wanneer hy verder trek.
Geen dans in woel'ge saal,
 geen lied van danseres
 bied hom 'n blye onthaal
 wanneer hy eensaam is—
 geen drank uit volle fles.
Sy vlamme dans en spring
 al rond die ketel-boom;
 sy ketel praat en sing
 en skink hom in die drank
 wat die ure laat verdroom.
Sy keteltjie is swart
 al in sy diens gebrand:
 die trooster van sy smart
 die bly hom trou wanneer
 hy soek 'n vaderland.
Die spoor lê oral in
 die ronde hopies as;
 en telkens as die dag begin
 dan swaai dit by die voorwiel, met
 'n voorslag-riempie vas.—
Die vlamme dans
 nou rond in vuurge kring.
 Die mense sit 'n krans
 en luister swygend na
 die keteltjie wat sing.
Hul aandag span
 nog meer wanneer oom Gert
 vertel die storie van
 Hendrik en Lettie en
 hoe gou hul twee geskeie werd.
XIV
"Hul twee is lammers van een jaar,
 hul huppel op een werf,
 tot arm sy vader trek vandaar
 en swerf.
"Beloftewoord, en dan niks meer.
 En ... harte in pyn en hoop,
 wyl ryke minnaars kom maar weer
 om haar hart te koop.
"Die jaartal skuif so traag.
 Gerug van sonde tot haar kom.
 Totdat hy bewend waag...
 hy is weerom.
"Hul leed blyk dan 'n wolk so rein.
 Op huweliksdag
 'n soete oorwinningsvrede skyn
 in purperprag.
"Maar—die oorlogswoord roep haastig rond.
 'Ag, Hendrik, hoe's ons droom so kort!'—
 Liefs kort gedroom, as Britse grond
 en slawe word.'
"Sy swyg. Sy perdjie huppel al
 na Laingsnek weg.
 Hy sink met wein'ge in Natal
 om ver te veg.
"Dis duisternis en stille nag.
 'My vriend, ek sterf by die eerste lig,'—
 so spreek hy sag,
 'maar Lettie wag haar eerste wig.
"'Laat sy my verre graf hom wys
 en eewge trou laat sweer.'
 Hy sterf—die dure prys
 van vaderland en eer.—
"'n Moeder veeg haar trane af.
 'n Kinderhand die kransie hou.
 Hul staan voor 'n gesonke graf.
 Dit was die eerste daad van trou."
XV

 Die nag is heen, die môre is grys;
 'n plaat van tente en waens wys
 waar Perdekraal se steenhoop rys
      teen hoë hange.
Daar staan hul aan die grond gepénd
 die geweltjies so mooi orent—
 die eie maaksels, tent aan tent,
      in suiwer range.
o Trekkersvolk, my hart ontgloei!
 Ek sien hoe jul die vreemde boei
 verbreek het, om dan uit te bloei
           tot eie nasie.
Nie net 'n eie vaderland,
 nie net 'n eie vlag geplant,
 maar àlles maak van eie hand—
          geen imitasie!
Hoe lê die tentseil, baan aan baan.
 Hoe wakker bly die nokke staan.
 Die klappies netjies oopgeslaan—
 mooi eenheid same.
Sy staan daar by die wa se as,
 die huis van doek, so lossies-vas,
 skoon nes in môredou gewas—
        'n blanke dame.
Twee lang wit kappe in die veld:
 'n wa en tent daarnaas gesteld,
 tweeheid tot eenheid saamgesmelt
       in sware stonde.
Die wa—'n sterke man is hy;
 die tent—'n taaie vrou is sy.
 Jul het die nasie uitgelei,
   sy boei's ontbonde.
Lig op haar voet net soos die ree
 en trekkend met die trekker mee
 bied sy hom tog 'n vaste stee
       in angs-geweste:
as wolkbreuk beuk die witte wand,
 die sonstrale op die nokke brand
 of nagdier sluip oor donker land,
        'n veil'ge veste.
En as sy wa nie verder dring,
 hoor ek by wind haar fladdering
 die lied van boerbeskawing sing,
      stemmig-tevrede.
Dan word haar seile trou bewaar:
 by feesdag net span sy 'n laer
 en straal haar seile dankbaar daar
    van groot verlede.
 
XVI
Oom Gert en Koos die sluit hul waens
 vas aanmekaar aan die buitekant
 en in 'n lyn met al die waens
 wat reeds in rye staan geskaar
 uit die omtrek van die Rand.
Die lang grys wasems van die nag
 lê soos 'n slangrug in die dal;
 dit is die misdamp van die reën
 wat in Desember langs die Rand
 oorvloedig val.
Daar in die miswolk dryf die kiem
 van perdesiekte, sê hul, rond,
 maar mens en bees, waarvoor die Heer
 die nuwe land gemaak het, is
 gesond.
Reg-bo die vuurtjies van die laer
 styg stil omhoog die ligblou walm,
 en nou die son weer op wil gaan,
 styg uit 'n tent nog hier en daar
 'n laaste psalm.
Die osse word al losgemaak
 en veld toe aangejaag;
 'n Kaffer stap hul agterna
 wat aan 'n stok sy velskoene en
 'n haarge knapsak draag.
'n Enkele hamerslag weerklink
 van die wat laat kom, maar
 die meeste burgers is gereed
 en staan die landsaak te bespreek
 in klompies bymekaar.
Die vrouens maak die brekfis al—
 die tweede ketel sing;
 hul loop tent in tent uit en koes
 gramstorig vir die braaivleis-rook
 wat trane in hul oë bring.
Straks gaan hul, of dit kerk is, in
 hul Sondagspak geklee
 na die vermaarde steenhoop heen;
 'n ieder neem sy kerkboek en
 sy riempies-stoeltjie mee.
Die predikant laat sing; hy lees
 en hou 'n nasionale preek.
 Dan vra hy ook nog vir oom Gert
 wat oral saamgetrek het, om
 die landgenote toe te spreek:
XVII
"My landgenote, julle weet
 hul het in Kaapland, vroeg en laat,
 'n valse vryheidsleer verkondig;
 jul weet die Kafferbendes het
 met roof en moord en skelmery,
 die grensbewoners daar versondig.
"Ons het getrek, eers na Natal,
 tot aan die see wat vir ons was
 'n tweede en wilder Onbekende;
 maar nooit het trekkers moed of lus
 gehad om na die wildernis
 hul dapper trekkersvoet te wende.
"Hul het daar deur die duinsand heen
 hul waens gedryf, en tot vandag
 staan daar die boerenaam geskrywe.
 Ons vyande 't ons daar gevind,
 ons uit-oorlê of aangeval,
 en uit dié Kanan weer verdrywe.
"Ons laat aan Kaffervolk en Brit
 die mooiste deel van Afrika
 wat slinger langs die strande.
 Ons het gekies, om vrede vir
 ons voet te vind, die wildernis
 en altyd skraler binnelande.
"God het ons eers gelouter en
 laat wraak neem op Dingaan
 se duisternis van Soeloe-horde,
 dat ons daar in die nuwe land,
 nes uit 'n smeltkroes voortgekom,
 'n Gode-dankbaar volk sou worde.
"En later toe die Engelsman
 ons weer gedreig het en gedruk,
 het ons die steenhoop dáár vergader.
 Hier van Transvaal se hoogaltaar
 het ons ons harte opgehef
 tot God Almagtig, onse Vader.
"Jul weet hoe God gered het. Dink
 aan Laingsnek, aan Ingogo en
 aan Amajuba's hoë kranse.
 Wee ons as ons weer God vergeet,
 soos Israel by Sinaï,
 met wilde afgodsdanse!
"Dan sal die steenhoop ons verkla.
 Ek roep tot my getuie aan
 die hemel en die heuwelrande!
 Dan sal ons hiér moet kerm en klaag,
 en rondom hiérdie heil'ge plek
 die tekens sien van al ons skande!"
XVIII
Die fees het weer verbygegaan—
 na alkant sien mens waens, soos
 die boere in klompies weer vertrek...
 Hoe wakker staan die swepe-ry!
 hoe daal hul, en die voorslag klap
 om die osselywe op te wek!
Nie lank nie of daar is weer fees;
 nou in oom Gert se huisie, waar
 Willem en Dina samestaan...
 Voordat die mense skei, vra nog
 die predikant dat hul sal hoor
 hoe hierdie bruilofsliedjie gaan:
XIX
Bruidegom
"Ek is 'n boerebruidegom
 wat uit die ou Kolonie kom.
 Ek is geen kind nie van die Trek,
 maar my hart sit op die regte plek;
 daarom het ek my vasgebind
 aan 'n egte, egte trekkerskind.
Bruid
"Ek is die egte boerebruid,
 uit die egte takhaarwêreld uit.
 Maar ek kon my tog so goed gedra
 dat 'n kolonis my hand kom vra!
 Ja, die ou Transvaal is nie so sleg
 as wat die mense dink en seg.
Bruidegom
"Ek is 'n boerebruidegom
 wat met my ganse rykdom kom.
 Ek het geen geld nie op die bank;
 maar het 'n wa met suiwer klank,
 twaalf rooies, jukke en rieme klaar,
 en ek makeer nog net vir haar!
Bruid
"Ek is maar net 'n boerebruid,
 en gee my vir niks anders uit;
 geen jongman hoef hom te vergis,
 want ek is net maar wat ek is.
 Maar 'k het twee arrems, rond en sterk,
 wat regstaan vir die huishou-werk.
Bruidegom
"Ek is 'n boerebruidegom
 wat net maar na die bruilof kom
 met stewels, en ook net dan dra
 die laken-pak en keil van pa.
 Anders is hul my lyf te veel
 en is dit velskoen en ferweel.
Bruid
"Ek is maar net 'n boerebruid.
 Ek dra 'n kappie met 'n tuit.
 Ek knip die tabberds wat ek dra—
 maar bietjie mooier!—moeder ná.
 Net die één waar ek vandag mee loop
 het vader by die smous gekoop.
Bruidegom
"Ek is 'n boerebruidegom
 wat met lees en syfer klaar kan kom,
 en die kaart ken van Suid-Afrika
 wat ek daarso in my koppie dra.
 Wat anderkant die water, in
 die wêreld is, raak my maar min.
Bruid
"Ek is maar net 'n boerebruid,
 ek laat nie my geleerdheid uit.
 As hul oor politiek begin
 dan luister ek en hou my in.
 Maar 'k sal my kinders eendag wel
 die storie van Transvaal vertel!"